Sunday, September 21, 2008

Die Lorber geskrifte

Ek wil vir geen oomblik die indruk skep dat ek al die geskrifte van Lorber gelees het of hulle totaal verstaan nie. Maar ek wil graag my wedervaringe ten opsigte van die geskrifte met die wat dit wel lees deel, miskien sal dit vir die was soms mismoedig raak met die lees en verstaan van die geskrifte weer nuwe moed gee en inspireer om dit weer op te neem en te lees.

Ek het eers die volle begrip van die liefde begin te verstaan met die lees van Die jeug van Jesus. Ons ken almal die gebod dat ons mekaar moet liefhê soos onsself maar die dieper begrip daarvan is eers vir my oopgebreek tydens die lees van die boek.
Daarna het ek begin met die Openbaring van Johannes en tog moet ek erken dat dit moeilik voedsel is om te verteer.
Na boek 1 het ek dit eers vir ‘n ruk gelos want daar was sekere begrippe wat ek nie kon verstaan nie en dit het my gefrustreerd en mismoedig gelaat.

Ek het die geskrifte vir ‘n wyle eers weer laat staan en gedurende die tyd wat ek dit nie gelees het nie het ek deur die leiding van Vader besef dat ek dalk nog nie reg was vir die ander gedeeltes wat vir my onverstaanbaar was.

Ons Vader sal ons nooit voedsel skenk waarvoor ons nog nie reg is nie en miskien lê die sukses daarvan om dit te verstaan in ‘n paar beginsels opgesluit.
Die eerste is om nie te druk nie want Vader weet wat is die beste vir ons en wanneer is ons reg vir wat – op daardie stadium sal Hy ons terug lei om weer die stukke op te neem en te lees en dan sal dit vir ons verstaanbaar wees.

Ons moet besef dat Vader met ons besig is in ‘n opleidings - of voorbereidings fase sodat ons geskik sal wees vir diens wanneer die tyd aanbreek. Ons elkeen word ook nie teen dieselfde pas en spoed geleer nie want buiten vir dit word ons elkeen vir ‘n ander taak voorberei.

Die tweede is om die lering vanuit die gees te benader en nie vanuit die vlees of materie nie want die materie verstaan nie die lering wat daar vir die gees in die geskrifte in opgesluit is nie.
My eie ervaring is dat ek soms van die stukke lees en vanuit die wêreldse oogpunt maak dit vir my geen sin nie maar die gees binne my herken die lering en verstaan dit – dus verstaan ek dit (in die gees) en tog ook nie (in die vlees). Ek weet dit klink baie snaaks op die oor maar dit is soos baie dinge wat ons as sy kinders deesdae ervaar – daar word vir ons kennis in die gees ingefluister deur die Heilige Gees wat geen sin maak vir die vlees nie.

Miskien wanneer ons meer gees as materie is sal die leringe vir ons in totaliteit sin maak in gees en vlees maar terwyl ons steeds die stryd voer om meer gees te wees as materie sal ons verlief moet neem met die wyse waarop die waarheid vir ons gees ingefluister word.
Die tyd sal wel aanbreek dat ons sal oopbars soos ‘n pragtige blom wat die lieflike geure van die leringe in die wêreld om ons sal versprei en die geur sal die vermoeides lok om te ruik en hul te verbly in die leringe wat Vader in ons opgesluit het vir die regte tyd.
Tans is ons maar nog soos ‘n kleine blomknoppie wat vertroetel en bewaar moet word sodat ons kan blom op die regte tyd.

Die vermoë om voortdurend te waak en te bid en geduldig te wag vir die antwoord van Vader is dit wat ons anders maak want ons weet dat tyd in Sy hand is en dat ons maak klein voor Sy aangesig is.
Laat ons daarom volhard en nie moed opgee nie want in die Lorber geskrifte is daar tog vir ons ontsettend baie kosbaarhede opgesluit wat wag om ontdek te word deur hom wat volhard in sy soeke.Gelukkig het Vader dit goed gedink dat ek gereed is vir die volgende lering en ek het die lees van die geskrifte weer hervat en elke dag ontbloot Hy vir my nuwe waarhede en voed my siel met liefde.