Thursday, September 18, 2008

Marno se vergrote hart


Miskien net eers vertel wie Marno is. Dit is my kleinkind wat nou so 5 maande oud is.

Ons het so week lank vir die kinders en kleinkind gaan kuier. Hier in die middel van die week het die outjie so bietjie olik begin voel, tipiese griep / verkoue simptome. Ons het die naweek huistoe gekom en gedurende die naweek het die kinders die outjie hospitaal toe geneem. Hy is opgeneem en daar is x-strale geneem van sy borskas.
Die x-strale afdeling in die hospitaal word deur ‘n privaat praktyk bedryf en gewoonlik ken die mense hul storie en kan plate ook baie goed lees.

Die dokter aan diens het ook die plate gelees en gesê dat hulle die kleinkind dringend by die spesialis sal moet uitkry want op die x-strale toon dit dat hy ‘n erg vergrote hart het.

Maandag oggend 15 September het ek my seun gebel en hy was toe net oppad van die werk af om dringend die kleinkind deur te neem Pretoria toe na die hart spesialis.
Ek was geweldig bedroef deur die nuus en allerhande gedagtes gaan deur mens se verstand op daardie stadium soos hoe sal dit die outjie se lewe beïnvloed, wat sal sy lewens verwagting wees, sal hy normaal kan grootword.

Ek het toe besluit daar is maar net een uitweg en dit is om my te wend na my Vader wat Koning is van Hemel en Aarde en my droefheid na Hom neem en vra of Hy nie vir die kleinding ‘n wonderwerk wil doen nie.
Ek glo dat Vader die trane op ‘n oupa se gesig en in sy hart gesien het en medelye gehad het met my versoek om die kleinding gesond te maak.

Later die aand het ek van die kinders verneem dat die spesialis gesê het daar is nie ‘n teken van ‘n vergrote hart nie en dis net die een long wat nie lekker is vanweë die brongitis nie.

Toeval – verkeerde diagnose. Soos al voorheen vermeld glo ek nie aan toeval nie. Verkeerde diagnose – hoe is dit moontlik dat die x-strale afdeling en die dokter ‘n vergrote hart sien wat daar nie nou meer is nie? – Hoogs onwaarskynlik.
Ons Almagtige God is steeds ‘n God van wonderwerke en by Hom is niks onmoontlik nie – die vraag is net – is ons bereid om volkome in Hom te glo.
Ek het geglo en ek glo dat Hy ‘n wonderwerk verrig het met die kleinding se hart waarvoor ek Vader ewig dankbaar sal wees.

Dit het tyd geword dat ons sal bid en glo – dan sal die wonderwerke en genade van die hemele vir ons geopen word sodat ons die volheid daarvan sal sien en kan ontvang.

Dankie Vader dat U barmhartig en genadig is en U oor neig na die gebed van ‘n sondaar. Dat U steeds in hierdie dag en tyd wonderwerke verrig en U liefde openbaar aan hulle wat U in opregtheid opsoek.