Tuesday, October 28, 2008

Die Begeerlikhede en Oortredinge van die Vlees.


Hoe maklik het dit tog nie vir die adamiet geword sy sondes en oortredinge voor die deur van sy vleeslike liggaam te plaas. Die swakheid van die vlees om die sondes van die wêreld te weerstaan het so algemeen geraak asof alles die liggaam se skuld is. Dit is ingebou in die menslike natuur.
So asof die adamiet die mentaliteit van ‘n dier het wat redeloos en sonder verantwoording kan optree.

Waar moet ons die skuldige gaan soek wat die liggaam lei om te oortree en te sondig – by die natuur van die liggaam self? Of eerder by die siel?

Die liggaam is aan ons geskenk deur die Almagtige Skepper YHWH as ‘n tydelike houer vir ons siel en gees. Die liggaam slyt en gaan tot niet, maar nie die siel en gees nie.

Die gees is die stukkie van die Goddelike Gees wat in ons woon en wat ons kan laat groei tot die grootse genade van die Almagtige of ons kan dit afskeep en dit so diep bêre dat dit nie meer tot ons spreuk nie. Die gees is dit wat ons onderskei van al die ander wesens wat geskape is en dit is die stukkie Goddelikheid in ons. Aan ons word die keuse gebied om die stukkie heerlikheid te laat groei sodat dit later totaal beheer oorneem van ons lewe en dat ons oorgaan van ‘n staat van harde materie na ‘n staat van Gees waar ons in die volkome liefde van God wandel.
Of ons kan dit laat afsny uit ons lewe sodat alles net klipharde materie is en geen gees – dan het ons geword soos al die ander skepsele van die skepping.

Die wonder van YHWH se liefde is dat Hy die keuse aan die adamiet self gelos het – want daarin is opgesluit die opregte liefde – om lief te hê omdat jy wil en nie omdat jy moet nie.

Watter absurditeit is dit tog nie om die skuld vir die swakheid van die siel te plaas op die vlees.
Dwaal jou oë maar vanself na die verkeerde dinge, of luister jou ore uit vrye wil na dit wat onwelvoeglik is, spreek jou mond vanself dit wat vieslik is of hardloop jou bene vanself agter die kwaad aan? Die liggaam hardloop tog nie vanself om te gaan hoereer nie – daar moet ‘n wils besluit wees vir die liggaam om die aksies uit te voer.

Die vlees (liggaam) begeer slegs om versorg en gevoed te word. Nie om gemanipuleer te word deur die siel as ‘n instrument tot sonde nie.

Nou as dit nie die liggaam is nie dan moet daar tog iets of iemand wees wat vir die vlees voorskryf wat om te doen of nie te doen nie.

Die liggaam gaan nie iets doen wat aan homself skade berokken nie want dit is so gebou om homself te preserveer en die inhoud daarbinne te beskerm. Die liggaam se natuurlike instink is gebaseer op oorlewing. Maar die liggaam kan ook so gekondisioneer word om sekere dinge tot so mate te geniet dat dit later daarvan afhanklik raak. Die liggaam dink hy het dit nodig vir oorlewing want die besluit vann die siel het die liggaam mislei.

Alles lê in die siel – as die siel suiwer is sal dit verkleef wees aan die gees en saam groei tot ‘n genade eenheid voor God en sal die liggaam moet volg in dit wat die siel vir hom voorskryf.

Maar as die siel bedorwe en korrup is staan dit alleen en die Goddelike influistering is nie daar nie en die siel neig homself na die bose – dit word dan ook weerspieël in die optrede van die liggaam.

Dus as die siel rein is sal die optrede van die liggaam ook rein wees maar as die siel besoedeld is sal die optrede van die liggaam ook besoedeld wees.

Moet dus nie weer die verskoning gebruik dat jy toegegee het aan die vleeslike behoefte van die liggaam nie – want dit is ‘n leuen – die liggaam word geoefen deur die siel wat die optrede, hetsy goed of sleg bepaal.