Friday, October 3, 2008

Verjaarsdag


Ja, en so het nog ‘n verjaarsdag gekom en gegaan en noodwendig dink mens meer terug oor jou lewe hoe ouer jy word. Jy wonder hoe sou dit gewees het as jy dit of dat gedoen het – wat sou die uiteinde daarvan wees.

Soms is mens spyt oor dinge wat jy gedoen het of dinge wat jy nie gedoen het nie maar te midde van dit alles is daar ‘n vrede en geluksaligheid met my lot wat net Vader aan my kan skenk.

Soms is mens vies vir jouself omdat jy nie die grond of daardie huis gekoop het nie, want dan kon jy vandag baie geld daarmee gemaak het. Gelukkig ken mens ook jouself en soms is dit pynlike om die eie foute en tekortkominge te erken.
Want as ek ryk moes wees weet ek hoe ‘n mens ek sou wees – hoogmoedig – soos baie rykes is en daarom kan ek Vader dank dat Hy my nie ryk gemaak het sodat ek in my hoogmoedigheid Hom sou versaak of bespot het nie.

Maar daar is een ding waaroor ek werklik spyt is en dit is dat ek YHWH se groot en Almagtige Genadige Liefde eers werklik in die laaste paar jare leer ken het en ek besef vandag eers werklik hoeveel ek reeds gemis het. Hoeveel verder kon ek nie al gestaan het op die pad van geestelike groei nie.

Dis soos ‘n ou wat verlam is en in sy huis gekluister is – jare terug het hulle al vir hom vertel dat daar rolstoele is waarmee hy oor die weg kan kom en so bietjie uit die huis uit kan kom om die buitelug en –lewe te ervaar, maar hy was bevrees vir die rolstoel ding. Op ‘n dag het die dokter hom meegedeel dat sy tydjie maar kort hier op aarde en hy het besluit dis nou of nooit. Hy het ‘n rolstoel in die hande gekry en het die wêreld buite sy ingekluisterde huis gaan verken.
Dit was die mees wonderlikste ervaring wat hy gehad het en kon nie genoeg kry van die heerlikheid van die buitelug nie.
Nou is hy in twee gedagtes oor die hele episode – omdat sy tydjie wat oor is so kort is en hy besluit om die kans te waag, nou is dit vir hom heerlik en wonderbaar – as hy dit al jare vroeër gedoen het kon hy al so baie geniet het – maar die vraag is ook – sou hy dit nie nou al gewoond gewees het nie en dan sou dit nie nou so ‘n wonderlike ervaring vir hom gewees het nie?

Is jy bly oor dit wat jy nou ontdek het en geniet dit ten volle of is jy ongelukkig omdat jy dit nie lankal ontdek het nie en tob nou die heeltyd oor die verlies.