Wednesday, April 23, 2008

Week van Ongesuurde Brode en die Hamburger Buns

Die week vanaf Saterdag (19 April 2008) aand na sononder tot Saterdag (26 April 2008) sononder is die week van Ongesuurde Brode. Die week volg direk op die Pasga wat plaasgevind het na sononder op Vrydag 18 April 2008.

Gedurende die week mag jy geen produkte met suurdeeg in gebruik nie en slegs ongesuurde brood word ge-eet (sien Exod 12 : 20 en 1 Kor 5 : 7)
Die les hierin is dat die mens die suurdeeg (die sonde) uit sy lewe moet kry want soos Yahshua ons geleer het is dat 'n klein bietjie suurdeeg deurtrek vinnig die hele hoop deeg en so is dit ook met sonde in ons lewe. 'n "Klein" sondetjie deurtrek baie vinnig ons hele lewe en daarom is daar nie 'n ding soos 'n klein of groot sonde nie - as jy aan een gebod skuldig is het jy die hele wet oortree.

Jammer, ek moes net eers so bietjie agtergrond gee ten einde die strekking van die les te verstaan.
Ek is die tans die enigste in my huishouding wat die week van Ongesuurde Brode onderhou en gisteraand het ek vinnig vir almal kos gemaak. Die besluit was maklik - hamburgers - dis vinnig, maklik en min skottelgoed (dis mos hoe ons mans dit doen, as jy alles in een pot kan maak des te beter - ek dink die rede daarvoor is omdat ons nie kan multi task nie en dis makliker om een pot dop te hou op die stoof as 5)

Nadat al die patties en uie klaar gebak en gebraai is het ek die burgers net aanmekaar geslaan - die 2 seuns het eers rondgeloop (was eintlik verbaas want gewoonlik kan hulle mos nie wag vir die kos nie - klink mos met elke ete of hulle 'n jaar laas kos gehad het) en ek het hulle sin in die mikrogolf gebêre. Die vrou sin vir haar gegee. Ingedagte het ek begin om myne te maak en net voordat ek die buns sny besef ek maar dit is die week van Ongesuurde Brode en kan nie die buns gebruik vir my hamburgers nie.
In der haas het ek maar gou vir my ongesuurde broodjies gemaak om vir my hamburgers daarmee gemaak.

Later terwyl ek mooi oor die gebeure nadink het die volgende les daaruit vir my na vore gekom:
Die werkery met die ander se buns vir hulle burgers het my laat dink dat ons elke dag omring is deur die sondes en dit is so naby soos slegs 'n verkeerde gedagte. Ons moet voortdurend op ons hoede wees dat die sondes ons nie onbewustelik oorval terwyl ons so ingedagte besig is met die wêreldse dinge nie want dit kan so maklik gebeur - soos wat ek amper vir my burgers gemaak het met die gewone buns. Dit sou soveel makliker gewees het as om eers ongesuurde brode te maak vir my burgers. Maar die lewe gaan nie oor die maklike keuses nie maar oor die regte keuses.
Vader het in Sy grote wysheid aan ons die gawe gegee om keuses te maak - ons kan kies om te sondig of nie. Die bewys van ons liefde vir Hom lê in die keuse wat ons maak.
Ons kan nie tydens ons aardse bestaan van die sonde ontvlug nie maar ons kan die keuse maak om nie daaraan deel te hê nie.
Die lesse word soms op snaakse wyses aan ons oorgedra maar daar is groot dankbaarheid dat Sy stem nie stil is in ons siel nie.