Monday, May 19, 2008

Pasga Reën se Seën


Ek het nou alreeds vertel van die Week van Ongesuurde Brode wat vooraf gegaan word deur die Pasga.
Dit is vir my seker die belangrikste fees en het elke keer so geweldige betekenis vir my as sondaar wat gered is deur die bloed van ons Enigste Middelaar, Yahshua.
Die grootste geskenk wat enige iemand my nog ooit kon gee – die Ewige Lewe – wat niks of niemand van my kan wegneem nie.

Die jaar was ‘n effense teleurstelling omdat ek allenig die Pasga moes vier, vriende wat dit saam sou kom vier moes op die nippertjie onttrek vanweë ander verpligtinge en my een seun wat die Pasga gewoonlik saam met my vier was in die koshuis.
In elk geval – niks sou my van stryk bring om die Pasga te vier nie omdat die brood en die wyn so ‘n verblydende boodskap vir my inhou veral in die dae ook waarin ons leef.

Miskien moet ek dalk eers verduidelik hoe ons die Pasga vier. Daar word die dag voor die son sak ‘n vertrek in die huis of woonstel voorberei vir die Pasga. Tafel met stoele, die waskom vir die voete en handdoeke. Die ongesuurde brode word gemaak en die wyn in die beker gegooi en op die Pasga tafel geplaas.

Die Pasga word geopen met gebed en sang waarna die persoon wat die Pasga lei voorlees uit toe Skrif hoe Yahshua die voete van Sy dissipels gewas het tydens die laaste Pasga maal. Die voorganger begin dan om die persoon langs hom se voete te was in die wasskottel en af te droog. Die persoon wie se voete gewas is was weer die een langs hom / haar se voete en so gaan ons in die rondte totdat almal se voete gewas is.
Tydens die seremonie word die les ook geleer dat die een persoon nie belangriker as die ander is nie en dat ons daar is om mekaar te dien soos Yahshua ook Sy dissipels gedien het deur die gebaar.

Daarna word die Pasga voorgesit met die breek van die brood en die drink van die wyn.

Tydens Pasga die jaar terwyl ek so by myself sit en die opening van die Pasga doen deur gebed en sang (by myself – gelukkig was daar niemand anders wat kon kla dat my sang vals is nie en ek weet my Vader gee nie om nie want Hy sien tot hier diep in my hart), het ek gewonder hoe nou gemaak met die voete was seremonie want dit is net ek alleen.

Toe dit by die voete was seremonie kom het dit skielik begin reën en ek moes gou hardloop om skottels te gaan neersit omdat daar een plek in my kuier area is waar die dak redelik kwaai lek. (Die Pasga het ek die jaar gehou in die woonstel op die erf aangesien dit nou eers leeg is en dit baie lekker en ideaal is vir die Pasga.)
Ek het maar baie vinnig gehardloop en die skottels gaan neersit en was innerlik bietjie ontsteld omdat die reën eintlik nou inbreek gemaak het op die Pasga viering en my aandag daarvan afgetrek het.

Met die bakke geplaas onder al die lekke, hardloop ek weer terug woonstel toe en so paar tree voor die woonstel se deur stop ek skielik en daar is ‘n groot waardering vir die reën wat op my kop, gesig en hele liggaam val.
Skielik besef ek - maar dit is Vader se voete was seremonie vir my – deur Sy reën was Hy nie net my voete nie maar my hele liggaam.

Die woorde van Petrus aan Yahshua soos opgeteken gevind in:
(Joh. 13:9) Simon Petrus sê vir Hom: Yahshua, nie net my voete nie, maar ook die hande en die hoof.
het skielik vir my nuwe betekenis gekry.

My verlosser het op die Pasga nie net my voete gewas nie maar ook die hande en die hoof.

Nodeloos om te sê – al was ek alleen die Pasga was dit ‘n wonderlike ervaring en ook ‘n versekering dat daar waar ons of ek allenig besig is om Hom te dien, daar is ek nooit alleen nie.

Prys Sy wonderlike naam vir wonderdade wat Yahweh steeds vandag nog aan ons doen.